Pleegsorg – ‘n storie van misbruik en hernu

sisters friends

Jy het seker al in jou leeftyd gehoor van ‘n saak van molestering of aanranding, in vandag se samelewing waar sosiale media so gewild is,is dit moeilik om nie raak te lees nie. Jy dink dat dit nooit met jou sal gebeur nie.

Daar is nie ‘n mooier manier om dit te sê nie,ek was deur my eie pa gemolesteer.

Ek kan nie veel onthou van wat met my gebeur het voordat ek laerskool toe gegaan het nie, maar ek weet nou dat dit net verkeerde dinge was. Dit was deur die loop van laerskool waar ons geleer het van jou liggaam wat verander en dat jy moet nee se vir verkeerde dinge waar ek iets wou doen aan die saak, maar die naïewe meisie wat ek was wou nie haar eie pa tronk toe stuur nie, niemand sal dit wil doen nie.

Ek het seker gemaak dat my deur altyd gesluit was wanneer ek gaan slaap het en dat ek omtrent elke naweek my vriendin oornooi om oor te slaap of ek by haar. Vir ‘n lang tyd het dit gewerk en nie lank daarna nie het my ma-hulle die nuus aan ons gegee dat hulle gaan skei en sy gaan uittrek.

Na baie trane en vele uitbarstings het ons almal begin vrede maak daarmee en my pa het selfs ‘n ander vrou ontmoet.

Dit was ‘n Sondagaand en ek,my sussie, pa en sy meisie het in die sitkamer gesit en televisie gekyk toe ons ‘n klop aan die deur hoor. Ek het oopgemaak. Dit was ‘n man… ‘n polisieman. Hy het vir my pa na sy kamer vergesel en hulle het daar gesit en gesels. Nie lank daarna nie was ons huis oorvol met mense wat ons rekenaars uitdra en in die chaos het my pa in die agterkant van ‘n polisiekar beland en my ma was gebel. Die volgende oggend het ek en my sussie ons in Badisa se agterste kantoor bevind,bang en onseker oor alles wat besig was om te gebeur. Ons destydse maatskaplike werker het ons ingelig dat ons nie by ons ma kan bly nie weens redes vir ons eie veiligheid en welstand.

My pa se jongste broer en sy gesin het ons ingeneem en dit was veronderstel om tydelik te wees,almal was besig om die situasie in hul eie manier te verwerk en in die loop van daarde jaar het my sussie in die kinderhuis opgeïndig en ek het ander blyplek gesoek.

Ek het met een van my vriendinne en ‘n meisie wat ook in ons vriendekring was, en ek skaars geken het,gesels oor my probleem, sy het grapperig gesê dat haar ma nog ‘n kind sal wil hê en ons het op daardie stadium niks daarvan gedink nie. Die volgende dag by die skool het sy vir my gesê dat haar ouers ingestem het om my te ontmoet en gedurende daardie naweek het hulle my by die huis kom haal en het ons ‘n lekker dag gehad van Wii speel en gesels.

‘n Dag se kuiertjie het verander in ‘n aand se oorslaap en toe ek my oë uitvee is ek deel van hul gesin.

Dit was tydens my graad sewe jaar en ek is tans in graad elf, ek sal nie my verlede verruil vir ‘n beter een nie anders sou ek nie nou hier gewees het nie.

Al maak ek verskriklik baie foute gee hulle nie op,op my nie. Al noem ek hulle nie mamma en pappa nie is hulle my regte ouers en al sê ek dit nie baie nie is ek verskriklik lief vir hulle. Ek het amazing ouers en die meisie wie ek skaars geken het is nou my suster en slaap in die kamer langsaan myne. Sien, nie alle slegte stories het ‘n slegte einde nie.

Erkenning – Hierdie storie is geskryf deur die betrokke pleegkind wat deur Badisa Trio geplaas is.