Vrywilligers met helpende hande
Ons wil van hierdie maand af die kollig op ons vrywilligers plaas en die fantastiese werk wat hulle vir ons doen. Hierdie mense vat raak waar ons nie altyd bykom nie en ons is baie dankbaar vir hul hulp. Hier is ons eerste vrywilliger….
Wat is jou naam?
Poppie Gerber
(Poppie is so besig, ‘n regte ‘behind the scenes’ meisie! Ons sukkel om ‘n foto van haar te neem!)
Hoe lank is jy al ‘n vrywilliger by Badisa Trio?
13 jaar!
By watter tak is jy betrokke?
Kraaifontein
Waarmee help jy?
Op die oomblik help ek by die klerekamer. Mens kan seker sê omdat ek die langste hier is neem ek nou verantwoordelikheid vir die klerekamer. Ons sorteer alle klere wat geskenk word, kies voorraad wat vir behoeftes gegee moet word, klere wat entrepreneurs verkoop en aan die einde van elke maand doen ons ‘n klere verkoping. Met uitverkopings is ek kassiere en soms skeidsregter as die verkoping besig raak!
Anders help ek waar ek kan. Dit is vir my lekker om hier te help!
Hoe gereeld help jy?
Ek en Marina wat saam my werk in die klerekamer kom elke Dinsdag en Donderdag.
Hoekom Badisa Trio?
Jare terug het een van die maatskaplike werkers langs ons gebly. Haar kar was eendag stukkend en my man het haar ‘n geleentheid werk toe gegee. En so het ons begin praat en het sy gevra of ek nie kan kom help in die oggende as die kinders in die skool is nie. En nou is dit 13 jaar later. Ek geniet dit. Die emosies is soms op en af, veral as mens met moeilike kliënte moet werk. Maar daar is altyd nuwe uitdagings, elke nuwe jaar bring nuwe geduld. En ek geniet dit regtig om saam die personeel in Kraaifontein te werk.
Van almal hier by Badisa Trio wil ons vir Poppie ‘n groot groot dankie sê vir al haar werk. Ons laat die koordinasie van die klerekamer totaal aan haar oor. Sy is so toegewyd, pligsgetrou en betroubaar in haar taak. Sy is ‘n engel uit die hemel gestuur!