Vrywilligers – Rene Stander en Babs van Wyk
Hierdie maand het ons ‘n dubbel-door van vrywilligers! Rene Stander en Babs van Wyk behartig die Badisa Trio poppekaste. Hier is wat hulle antwoord op die vraelys….
(Rene links agter en Babs regs. hierdie is die enigste foto wat ons van die twee saam kon kry…want eintlik is hulle vreeslik kamera sku….seker hoekom hulle die poppekaste so baie geniet!)
Die eerste van die dubbel-door is Rene…
Wat is jou naam?
Rene Stander
Hoe lank is jy al ‘n vrywilliger by Badisa Trio?
Ek het in 2013 betrokke geraak. Aanvanklik sou ek net ‘n poppekas storie skryf en die maatskaplike werkers sou dit opvoer. Nadat die storie geskryf is, is ek versoek om saam met een van my leerlinge ‘n demonstrasie te doen by Totius laerskool wat deur die maatskaplike werkers bygewoon is. Na die geleentheid is ek versoek om te help met die aanbied van die poppekaste.
By watter tak is jy betrokke?
Ons is nie by ‘n spesieke tak betrokke nie, maar help almal waar hul poppekas werk het.
Waarmee help jy?
Ek help met die skryf van poppekaste en ook die aanbied van die poppekaste by die skole in Durbanville, Kraaifontein, Brackenfell en Bellville. Ons het nou reeds drie poppekas stories geskryf. Twee stories handel oor die beskerming van my liggaam teen mishandeling en die ander handel oor boelies. Ek is ook een van die poppekas spelers. Die aanbied van poppekaste en die vertel van stories vir jong kinders is my passsie.
Hoe gereeld help jy?
Dit hang af van wanneer ek benodig word en ek dit in my program kan inpas. Soms is dit drie keer ‘n week ander kere weer net een keer ‘n week en dan gewoonlik net gedurende skool kwartale. Ons gebruik gewoonlik November en Desember maande om die nuwe storie vir die volgende jaar voor te berei en in te oefen.
Hoekom Badisa Trio?
Die eenvoudige rede is omdat hulle my vra en ek dit moeilik vind om nee te sê. Op ‘n ernstige nood – dit gee my die geleentheid om nog iets vir iemand te beteken.
En nou vir Babs….
Wat is jou naam?
Babs van Wyk
Hoe lank is jy al ‘n vrywilliger by Badisa Trio?
Die afgelope twee jaar.
By watter tak is jy betrokke?
Ons werk is nie tak spesifiek nie, ons fokus meestal op skole.
Waarmee help jy?
Ek is betrokke by die fondswerwing en bewusmaking van Badisa Trio se werksaamhede en hoofsaaklik by die aanbied van poppekaste in skole.
Hoe gereeld help jy?
Dit hang af van beskikbaarheid van myself en ook van wanneer poppekaste aangebied moet word. Ek het betrokke geraak nadat ek versoek is om uit te help toe een van die poppekasspelers nie meer beskikbaar was nie. Ek help graag waar ek kan. Vir my is betrokkenheid by die gemeenskap die doel waarom ons op aarde geplaas is. Ek wil graag ‘n verskil maak in ons samelewing.
Hoekom Badisa Trio?
Ek het getrokke geraak omdat Badisa Trio my genader het. Persoonlik dink ek die aanbied van poppekaste is ‘n goeie medium om ‘n boodskap oor te dra aan jong kinders en ek het ‘n passie vir kinders. Ek wil nie iets hieruit kry nie ek wil net vir ander mense iets beteken en my betrokkenheid by Badisa gee my die geleentheid. Dit is heerlik om die kinders se gesiggies te sien en dit wat deur die poppekaste oorgedra word help hulle weer om hulleself te beveilig.
Die nuutste poppekas gaan oor Boelies en hoe om op te staan teen hulle. Stel jy belang om hierdie poppekas by jou skool te hê? Kontak vir Sjean by ssmit@badisatrio.org.za vir meer details.