Kinderbeskerming in Mei

Nasionale Kinderbeskermingsweek word jaarliks in Suid-Afrika herdenk om bewusmaking rakende kinderregte te kweek, soos in die Kinderwet van 2005 omskryf.

Hierdie veldtog word deur die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling gelei, maar die oproep word aan alle lede van die publiek gemaak om ’n rol in kinderbeskerming te speel, ten einde veilige ruimtes vir kinders in ons gemeenskappe te skep.

Die Grondwet van Suid-Afrika beklemtoon die regte van kinders en kinderbeskerming en is gemik op die voorkoming en bekamping van kinderverwaarlosing, -mishandeling en –uitbuiting deur middel van ’n geïntegreerde en multidissiplinêre benadering.

Ondanks die regering en die openbare sektor se beste pogings tot kinderbeskerming, is kinders in ons gemeenskappe steeds blootgestel en weerloos. Om hoë vlakke van geweld teen kinders aan te spreek word ’n vennootskapbenadering op alle vlakke van die samelewing vereis.
– Badisa se vennootskap met die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling
– Badisa is ’n aangewese kinderbeskermingsorganisasie wat deur die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling aangestel is, met ’n statutêre verpligting om kinders volgens die Kinderwet te beskerm.
– Om die dienste te kan verrig, ontvang Badisa wel finansiële ondersteuning vanaf
die Department, maar het ook verskeie proaktiewe projekte, wat op voorkoming en ingryping gemik is, wat dringend addisionele befondsing benodig.

Volgens Ronel van Zyl, Direkteur: Maatskaplike Dienste by Badisa, word kinders, wat ons land se toekoms is, behandel asof hulle waardeloos is. “Hulle word aan mishandeling en verwaarlosing deur hulle ouers en primêre versorgers onderwerp en die voortdurende siklus van mishandeling lei tot ’n toekomstige generasie van ouers wat ook hul eie kinders verwaarloos of mishandel. Ons gemeenskappe is besig om te disintegreer en het ’n tekort aan morele waardes. Die tekort aan ondersteuning vir nuwe ouers en die druk van die moderne
samelewing is alles bydraende faktore. Ons moet gemeenskappe skep wat vir hulle kinders omgee voordat dit te laat is.”

Badisa dien as ’n skakel tussen rolspelers in die gemeenskap en kwesbare kinders.
Hierdie taak kan egter nie alleen uitgevoer word nie en hulp word as volg benodig:
• Salarisse vir maatskaplike werkers
• Infrastruktuurbefondsing
• Professionele Pro Bono dienste van terapeute, veral arbeidsterapeute en sielkundiges,
aangesien hulle nie self hierdie dienste kan lewer nie
• Donasies vir klere en kos
• Bewusmakingsveldtogte oor kinderregte in kerke en ander gemeenskapstrukture

Groen strikkie
Die regering doen ’n beroep op elkeen om ’n groen strikkie te dra tydens
Kinderbeskermingweek wat vanaf 27 Mei tot 2 Junie plaasvind, ten einde hul ondersteuning vir die bevordering van kinderregte, -sorg en -beskerming te toon.
Om uit te vind hoe om as aktiewe vennoot betrokke te raak, besoek asseblief
www.badisatrio.co.za