‘In Desember 2012 kry ek die oproep: “Ons het ‘n dogtertjie hier, sy is 4 jaar oud. Sy kan nie langer aanbly by haar huidige pleegouers nie, is jy bereid om haar te neem vir die vakansie?”.

My wêreld verander in ‘n oogwink. Dit is twee dae voor ons as gesin weggaan met vakansie na ‘n lang en uitdagende jaar. Ons is reeds 14 jaar getroud, ons het net een kind, hy is 8 jaar oud en is reeds op 2 gediagnoseer met outisme. Vir 6 jaar het ons lewens net bestaan uit intervensie, terapie en elke moontlike toets en pil om ons seun te help om met ons te kommunikeer. Ons gesinsdinamika is een-dimensioneel, ons seun is hoogs-funksionerend, maar dikwels in sy eie wêreld. Familierituele en uitstappies is kompleks en dikwels is tuisbly net makliker. Alles draai om outisme en hoe dit ons daaglikse roetine bepaal. Vir 4 jaar probeer ons reeds om nog ‘n kind te he, 2 miskrame later besef ons God het dalk ‘n ander plan. Ons glo ons moet Hom vertrou…. vir lank oorweeg ek aanneming, pleegsorg en praat met die maatskaplike werkers daaroor, maar aanvaar dit gaan nie sommer gebeur nie.

Ek sukkel om te bepaal hoe ek voel, vreemd opgewonde, tog vreesbevange vir die onbekende. Hoe lyk sy, sal sy inpas in ons gesin, sal ons seun haar aanvaar, sal ek haar hartjie kan bewaar en vir haar onbaatsugtige liefde kan gee, al is sy nie my eie bloed of kultuur nie? Ek bel my man en hy beaam ons moet haar neem, geen twyfel nie.

Twee dae later gaan tel ek haar op by die Badisa Trio kantore in Kraaifontein. Sy is daar afgelaai met klere en al, iewers dop ‘n fietsie uit, ‘n pop en ‘n paar boeke. Haar klere ingedruk in verskeie plastieksakke wat skeur met die inlaai. Ek tel haar op, sit haar in die karstoeltjie en maak haar stewig vas. Sy kyk met ‘n bleek gesiggie na my, ‘n dapper lig in haar oë en sy vra met ‘n glimlaggie “Is jy vandag my mamma?”. Ek antwoord nie, emosies te vlak in my stem. Ek glimlag net baie breed en knik. Sy is vir 4 weke aan ons toevertrou, daarna moet daar pleegouers gevind word. In my hart weet ek reeds, sy is vir ons gestuur. Vir hoe lank weet ek nie, maar vir nou moet ons haar liefhê.

Die dag vantevore het ek haar ma gaan ontmoet, sy het ‘n kontakbesoek met haar elke twee weke vir ‘n uur onder toesig. Ek kyk na die maer, bruin vrou in die ontvangslokaal en weet onmiddellik, sy het ‘n swaar pad gestap, omstandighede en haar eie keuses was haar nie goedgesind nie, maar besef ook – moederliefde strek verder as dit. Sy kan nie na haar kind kyk nie, wie weet of sy ooit sal kan, maar sy bly lief vir haar. Ek weet ons sal nie voortaan veel kontak mag hê nie, maar ek het ook ‘n kind en as ma weet ek dit moet bitter swaar wees om jou kind aan ‘n vreemdeling af te staan. Ek kyk haar in die oë en se: Ek belowe jou ek sal mooi na haar kyk”. Sy knik tevrede. Sy sou voortaan steeds twee weekliks besoeke hê by die kantoor met haar dogtertjie, maar dan sou ek nie by wees nie. Ons kom tuis na ek haar gaan oplaai het. My vriendinne het alles wat pienk was in hulle huise vir my gebring en ons kon in ‘n rekordtyd haar kamer inrig met mooi beddegoed, poppe, handdoeke en speelgoed. Ek tel haar uit en sy help ewe groot om alles af te dra. So klein en tog so selfstandig. Ek wys haar die nuwe kamer, sy is effens oorstelp en begin dadelik haar klere uitpak en vir my wys haar ma het vir haar “make-up” gekoop. Sy gaan staan voor die spieel en begin haar oë en lippies inkleur. My hart smelt…..sy is net ‘n dogtertjie. Sy wil mooi wees, sy wil geliefd wees, maar bowenal wil sy veilig voel. Sy vra weer of ek haar mamma is, ek antwoord: “Ek is jou veiligheidsmamma, ek gaan jou veilig hou”. Sy slaan haar arms om my nek en hou my styf vas.

Dis ‘n jaar later, ons is formeel as pleegouers aangestel en die pad was ongelooflik. Het ons haar gehelp, ja, het sy ons lewe verander? Beslis! Sy is en bly een van ons grootste seëninge.

Take a look at this video:

Thank you to our sponsor for this film:

milldance