‘n Pleegkind storie…
Ek is vandag 17 jaar, 8 maand en 4 dae oud. Ek tel dit elke dag af, want dan is ek vinniger 18 jaar oud. Dan hoef ek nooit weer met my ouers te praat of te sien nie. Ek kan dan my eie besluite neem. Maar is dit nou te laat om iemand te vertel van alles wat met my gebeur het?
Kom ek vertel vir jou my storie dan besluit jy self.
Ek het groot geraak in ‘n huis, in ‘n gemiddelde klas woonbuurt , waar my pa elke dag van sy lewe drink. Vroeg in die oggend, moet hy net eers se twee “reg-makertjies”, 2 biere drink, anders kan hy nie deur die dag kom nie. Hy het ‘n goeie werk gehad , maar jong as hy nie sy biertjies in het nie, is die dag hel. Ag dis in elk geval hel. Elke aand as hy by die huis kom, loop ek, my ma en ouer broer goed daardeur. Ek meer as hulle. Ek moet dan hoor hoe sleg ek is, hoe dom ek is, hoe pateties en hoe slegter ek as my ma is. My ma het al moed opgegee en bly net stil. Rondom ons bly mense met hul groot Fortuners en duur karre, as hulle net weet wat in my huis aangaan. Ek sien die mense gereeld in Pick & Pay, maar as hulle net weet…..
Saam met die sleg-sê word daar op my geskreeu en die lelikste vloek-woorde gesê. Ek is keelvol vir alles en kan net nie wag dat ek 18 is en die huis permanent kan verlaat nie.
Ek onthou nog toe ek nie Graad 9 kon maak nie, die skoolhoof roep my pa in en gee opsies vir ons dat ek verder op kollege kan gaan studeer. Wat sê my pa: Ag nee wat Mnr. sy is in elk geval so dom, sy moet gaan werk, niks sal vir haar help nie. Pa dit het seergemaak!
Wel, ek ontmoet so tydjie terug ‘n seunsvriend, so jaar ouer as ek en gaan meer en meer by sy ouers se huis kuier. Ek hoor hoe ’n man en vrou met mekaar praat, hoe ‘n pa met sy kinders praat en hoe ’n ma vir haar kinders omgee en vra hoe was jou dag. Die tannie begin my ook in en uit vra. Daar is dit toe net dat ek breek en kom met alles uit en vertel van al die jare wat met my gebeur het. Sy is so geskok dat sy dadelik die Polisie bel en sê hierdie kind kan nie huis toe gaan nie.
Die Polisie kom daar aan en vat my verklaring. Die volgende dag kom die Maatskaplike werk-tannie daar aan en ek vertel vir haar ook alles. Ek word na ’n veiligheidma geneem en moet ook na die Kinderhof toe gaan. Ek vertel net weer oor-en-oor vir my veiligheidsma en die tannie by die hof, wat alles al die jare met my gebeur het. Dit doen my goed, want darem weet ek nou mense luister vir my en dat alles wat ek al die jare deurgemaak het, nie goed was vir my nie.
Ek is vandag 18 jaar, 2 maande en 3 dae oud. Ek tel nou nog die dae, want ek weet ek is nou ok en vry. Ek bly nogsteeds by my veiligheidsma en sy voel vir die eerste keer in my lewe na ‘n ouer wat vir my omgee. Ek gaan hierdie jaar ook kollege toe, want ek wil iets met my lewe doen. Sy glo in my en vertel vir my elke dag dat ek dit gaan maak. Ek begin dit eintlik nou eers glo.
My boodskap aan almal is….. dit is nooit te laat om vir vertel wat jou pla, wat met jou gebeur het nie, want daar is altyd mense wat na jou sal luister en jou probeer beskerm. Ja, ek was al amper 18 jaar oud, maar net daar het ek besef dat ek my ouerhuis nie normaal was nie, geen kind verdien dit om so hanteer te word nie. Daar is altyd hoop, al is jy amper 18 jaar oud. Jou lewe begin dan werklik eers en jy kan ’n groot sukses daarvan maak, mense moet net in jou glo.
Glo jy nou dat daar altyd hoop is, ek hoop so, want as jy dit glo, kan anders mense en kinders dit ook glo.