Die skooltjie is nogal lekker. Behalwe vir die tye wat die juffrou vir ons sê wat ons moet eet (veral daai klein, groen boompies), is ek nogal lief vir my skool, veral omdat ek nou uiteindelik maatjies het. Mamma en pappa het my bang gemaak om met maatjies te praat, maar ek bly nou nie meer by hulle nie.

Ek en my maatjies gaan gereeld op avonture – ons klim berge, ons roei deur woeste riviere, en partykeer seil ons oor die see! Ek raak soms bietjie hartseer want ek mag nooit die kaptein wees nie. My maatjies kan my nie altyd verstaan nie; wanneer ek sê “regs” dink hulle ek sê “jig!”, of wanneer ek vir hulle wil sê om die seil los te maak, wonder hulle hoe hulle die sykant moet losmaak. Dit maak almal so moedeloos, so ek is maar altyd eerder ʼn matroos.

Dit sal so lekker wees om te leer hoe om die woorde reg te sê! Ek het so baie stories om vir mense te vertel, en ek dink hulle sal nogal my stories geniet. ʼn Paar van die stories sal miskien soos van daai aksie en drama flieks klink, maar juffrou dink dis ʼn goeie idee om daai stories ook te vertel. Sy sê dit gaan my help om een dag ʼn kaptein te word!

Klein Jean het hulp nodig om sy spraak te verbeter, ons wil graag vir hom by die Soetlief program laat inskakel, om hom met al sy emosies rondom die gebeure in sy lewe en die toekoms te help. Dit beloop op R150 admin fooi en R250 per maand vir 10 maande.

Kan jy help?

Kontak gerus vir Suné by BADISA Trio Kraaifontein vir enige navrae of as enige iemand bereid is om hiermee te help. Tel: 021 987 2940 of epos: ssmit@badisatrio.org.za

Nuutste Nuus: Baie dankie aan almal wat donasies gemaak het vir Jean se terapie, ons het genoeg fondse om vir Jean die nodige hulp te kry. Hy gaan reeds vir sy terapie sessies en geniet dit vreeslik baie.